Wat gebeur met ’n verkiesing wanneer ’n fopnuusveldtog die waarheid verdraai? Watter doelwit het die vyandige vloot langs Kaapstad? Hoekom word ‘n verregse Boeremag weer bewapen? Wie beheer die dwelmhandel op die Kaapse Vlakte?
In die skadu’s van Suid-Afrika se nasionale verkiesing ontvou ’n dodelike en onsigbare komplot – gevoed deur dwelms, dollars en wapens. Gerugte word geweld, data word misleiding, mag word korrupsie, en elke nuwe voorval lyk minder na toeval en meer na oorlog. Iemand, êrens, trek die toutjies… die demokratiese eksperiment is in gevaar.
Terwyl politieke spanning kookpunt bereik, word ’n handvol mense onwetend in ’n stryd ingetrek wat veel groter is as hulle eie lewens. ’n Agent wat uit die donker terugkeer. ’n Geliefde wat ’n dubbellewe moet leef. ’n Mentor met geheime van sy eie. ’n Vriend op ’n wraakpad wat meer ontdek as waarna hy soek. In die middel van die storm keer Mac terug uit sy skuiling om sin te maak van die gebeure terwyl die klok aftel na die verkiesing.
Kan Mac sy eie duiwels verjaag, sy vriende beskerm en die land red?